Bloudruppel Status

KAAPSTAD. – Vier munisipaliteite in die Wes-Kaap kan met van die skoonste drinkwater in die land spog.

Die minister van omgewingsake en waterwese, Edna Molewa, het 8 Mei op ’n nuuskonferensie die vierde Bloudruppel-verslag bekend gemaak wat ’n aanduiding van die gehalte van drinkwater in munisipaliteite gee.

Kaapstad, wat verlede jaar die tweede plek op die lys behaal het, en George wat sewende was, het teruggesak na onderskeidelik sesde en tiende.

Die Gautengse munisipaliteite Ekurhuleni, Johannesburg en Mogale City is die topdrie in die land.

Die departement het in 2008 ’n aansporingsprogram, bekend as Bloudruppel-sertifisering, in werking gestel.

Sedertdien word dit elke jaar gepubliseer en vestig dit die aandag op die sertifisering van waterverskaffingstelsels wat aan streng kriteria gemeet word.

Molewa het gesê die verslag dui ’n beduidende verbetering aan.

“Oor die jare het ons probeer om die skoonste water aan ons mense te verskaf. Suid-Afrika se drinkwater is onder die beste in die wêreld. “Ons tel onder slegs ’n handjievol lande waar jy water uit ’n kraan kan drink.” Sedert 2009 het die gehalte van drinkwater aan die hand van die kriteria van 93,3% tot 97,3% in 2012 verbeter.

Molewa het gesê sy is tevrede met die gehalte van drinkwater in die land, maar dat daar ’n paar munisipaliteite is waaroor sy nog bekommerd is. Sy het Ikwezi en Koukamma, albei in die Oos-Kaap, uitgewys as die twee wat die swakste gevaar het. Kannaland het die swakste in die Wes-Kaap gevaar.

 

Jammer om te sien dat nie een van die Oos Kaapse stede onder die top tien is nie.

This entry was posted in Go Green, Rainwater Harvesting, safe water, Water Conservation, Water Tanks and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *